Skip to content

Jagberaad met VSA nou skielik oop vir media

JOHANNESBURG. – Die beraad van die departement van omgewingsake met trofeejagters is skielik nie meer geslote nie.

Die departement het gister teruggekrabbel en gese die media is welkom om die beraad met die Safari Club International Foundation (SCI) by ‘n luukse vakansieoord in Limpopo by te woon.

“Die vergadering is oop vir die media,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, gese. Vroeer het ‘n kollega van hom gese die beraad is nie oop vir die algemene publiek nie omdat dit ‘n vergadering tussen regerings (Suid-Afrika en Amerika) is.

Die media is ook nie van die beraad in kennis gestel of daarheen genooi nie. Die sakelys van die beraad het egter Saterdagaand aan bewaringsorganisasies uitgelek.

Die bewaringsorganisasie Conservation Action Trust het gister gese die doel met die beraad is duidelik om ‘n veldtog te voer ten gunste van trofeejag in Suid-Afrika. Trofeejag is veral sedert die jagtog op Cecil die Zimbabwiese leeu in Julie wereldwyd omstrede.

Ian Michler, vervaardiger van die dokumentere rolprent Blood Lions, het gese hy vind dit baie vreemd dat ‘n oorsese jagklub so ‘n groot rol speel op ‘n beraad oor die volhoubaarheid van wild in Afrika.

Modise het erken die SCI betaal vir die beraad en dat die departement van omgewingsake die gasheer is. Hy het ontken dat die departement die SCI as sy vennoot beskou en het beklemtoon geen beleidsbesluite sal op die beraad geneem word nie. Volgens Modise is SuidAfrikaanse jagverenigings ook na die beraad genooi.