Skip to content

Stropers vergiftig twee leeus

Telers se VSA se nuwe reels gaan stropery net aanmoedig

Die nag van 22 Desember het stropers by die Aloe Ridge-wildplaas naby Swartruggens in Noordwes ‘n vergiftigde hoenderkarkas oor een van die leeukampe se draad gegooi en gewag dat twee leeumannetjies (onderskeidelik drie en ses jaar oud) vrek. Daarna het hulle die draadheining geknip en die leeus se koppe en agterpote afgekap en daarmee gevlug.

“Dit was die eerste keer dat ek so iets sien. Ek het nie geweet wat om te se toe my werkers my kom roep het nie,” se Nazeer Cajee, Aloe Ridge se eienaar.

“Dit is ‘n hengse kopseer. Ek het nou ekstra wagte gehuur en ‘n nuwe sekerheidstelsel ten duurste laat installeer. ‘n Mens is bang hulle kom weer.”

Die voorval het gekom slegs ‘n dag nadat die VSA se vis- en wildlewediens (USFWS) twee leeusubspesies tot die lys van bedreigde spesies gevoeg het.

Cajee vrees die besluit kan leeustropery in Suid-Afrika laat toeneem. “Kyk maar wat het met die renosters gebeur. Dieselfde gaan nou met ons leeus gebeur. As wettige leeujag bemoeilik word, gaan stropers dit onwettig doen. Dis eenvoudig ‘n feit.”

Luidens die webtuiste van die Campaign Against Canned Hunting (CACH) word leeubene lank reeds as byproduk van die leeujagbedryf na China en ander Oosterse lande uitgevoer waar dit gebruik word om ‘n soort leeubeen- wyn (in China) of leeubeenkoek (Vietnam) te maak wat onder meer teen rumatiek en impotensie gebruik word.

Tienie Bamberger, eienaar van die Warthog Safaris-jagplaas buite Lephalale en lid van die Suid-Afri- kaanse Roofdiertelersvereniging (SARV), se die probleem is nou dat as ‘n Amerikaner sy leeutrofee wil huis toe neem, hy voortaan vooraf ‘n permit by die USFWS sal moet kry.

Die permitte sal egter net uitge- reik word as daar genoegsame bewyse is dat die betrokke leeus op etiese wyse geteel en aangehou word en dat die land se leeujagbedryf wel hydra tot die “verbetering van die oorlewing van die spesie”.

“As die Amerikaners nie meer hul trofees kan huis toe vat nie, gaan hulle nie wil kom jag nie. As die wettige leeujagbedryf dan skielik afneem, gaan leeugetalle drasties afneem omdat daar steeds ‘n groot aanvraag vanuit die Ooste vir leeubene is en daar nie meer volhoubaar met leeus geboer kan word nie. Verder kan onwettige stropery van leeus ook verhoog,” se Bamberger.

“Dit kan lelik raak, want stropers gaan nie leeus met gewere wil aandurf nie. Hulle gaan karkasse vergiftig en s6 kan hele troppe gelyk vrek.”

Pieter Potgieter, president van die SARV, se daar is die afgelope week by ‘n bosberaad op Koster besin oor hoe die vereniging te werk sal gaan om die nodige bewyse te kan lewer om aan die USFWS se vereistes te voldoen.

“Leeujag en leeuteling dra op baie maniere tot bewaring by. Vir elke geteelde leeu wat gejag word, word ‘n wilde leeu se lewe gered. Teling dra ook finansieel en geneties by tot die bewaring van die leeu en leeutelers kan leeus hervestig in gebiede waar hulle uitgesterf het,” se Potgieter.

“Die departement van omgewingsake het ingestem om by die USFWS uit te vind presies wat bedoel word met die `verbetering van die oorlewing van die spesie’ sodat ons ‘n dokument kan opstel wat die bewaringswaarde vir ons lede uiteen sal sit.”

Tot tyd en wyl die bewyse gelewer word, het die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) hom egter in November van die jag van geteelde leeus gedistansieer.

“Om te se leeustropery gaan skielik toeneem, is pure bespiege- ling. Die leeuteelbedryf kon eenvoudig nog nie bewaringswaarde bewys nie. Leeujag is baie winsgewend, maar dra nie direk by tot die bewaring van wilde leeus nie,” se Stan Burger, president van Phasa. “As die bedryf bewyse kan lewer, sal Phasa sy posisie heroorweeg. Maar intussen sal Phasa-lede wat leeus jag, geskors kan word.”

Ian Michler, navorsingskonsultant van die bekroonde dokumenter Blood Lions, meen daar is geen bewaringsargument om leeus in aanhouding te teel nie.

“Die argument word nou weer tot ‘n ekonomiese gesprek gereduseer. Ek kan verstaan hoekom hulle bang is, want hul sakemodel word bedreig. Om nou te wil kla oor stropery het nie sin nie, want dit is juis die leeutelers en jagoperateurs wat die leeubeenbedryf aanvoer,” se Michler.