Woede oor Cecil kan bedryf groot skade berokken
Die woede oor die dood van die Zimbabwiese swartmaanhaarleeu Cecil, tesame met die uitreiking van ’n dokumentêre rolprent oor geblikte leeujag, is volgens kenners besig om te ontwikkel in ’n “perfekte storm” wat die Suider-Afrikaanse jagbedryf groot skade aanrig.
Sowat 2 miljoen mense het hierdie week binne 48 uur twee afsonderlike aanlyn petisies van Avaaz.org en Change.org onderteken waarin hulle eis dat die Amerikaanse owerheid en die Europese Unie die invoer van enige jagtrofeë na Amerika en Europa verbied.
Die petisie vra voorts dat Westerse state “onmiddellik moet optree om die afname in die leeubevolking oor Afrika heen te keer deur leeus as ’n bedreigde spesie te klassifiseer”.
Die petisies volg op die internasionale woede nadat ’n Amerikaanse tandarts, dr. Walter Palmer, een van die Hwange Nasionale Park se geliefste leeus, Cecil, met ’n kruisboog geskiet het. Cecil is na bewering met ’n karkas uit die Zimbabwiese wildtuin gelok voordat hy op ’n naburige wildplaas geskiet is.
Die plakkaat van die dokumentêre rolprent Blood Lions.
Suid-Afrika se jagbedryf het verder slae gekry met die bekendstelling van die dokumentêre rolprent Blood Lions, wat die fokus laat val op die teel van mak leeus vir sogenaamde “geblikte jag”. Die rolprent het onmiddellik internasionale aandag getrek en bekendes soos die Amerikaanse TV-ster Ellen DeGeneres en die Britse komediant Ricky Gervais het albei daaroor getwiet.
Volgens die dokumentêr word daar elke dag in Suid-Afrika tussen twee en drie mak leeus of leeus wat in hokke geteel is, gejag.
Luidens die dokumentêr word daar tans sowat 8 000 leeus in hokke of klein kampe aangehou “vir redes wat niks met bewaring te doen het nie”.
Die rolprent, wat die afgelope Woensdagaand aan plaaslike en internasionale joernaliste in Johannesburg vertoon is, bevat skokkende beeldmateriaal van mak leeus wat etlike meter van “jagters” af geskiet word.
In een toneel krul ’n jong leeu van die pyn nadat hy vyf keer geskiet word voordat hy uiteindelik sterf. In ’n ander toneel word ’n jong leeu gewys wat te swak of siek is om te loop.
Ian Michler, verteller in die rolprent, sê hul doel is om die waarheid oor die wrede en onetiese bedryf aan mense wêreldwyd oor te dra: dat leeus hier soos batteryhoenders vir die jagbedryf geteel word en dat die diere geen bewaringswaarde het nie omdat hulle nie in die natuur kan oorleef nie.
“Ons hoop op wêreldwye veroordeling van die bedryf en om genoeg druk op die owerheid te plaas om die teling en verhandeling van wilde diere in aanhouding vir jagdoeleindes te verbied,” sê hy.
Garry Kelly van South African Outfitters (Sampeo) sê in die rolprent professionele jagters is bekommerd oor die slegte naam wat die bedryf kry weens geblikte leeujag.
“Jag is ’n sport wat geskoei is op die vernuf om ’n dier te bekruip en die geduld om op die regte oomblik te wag. Geen van hierdie aspekte is teenwoordig wanneer geblikte leeus geskiet word nie,” sê hy.
Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het kort ná die uitreiking van die fliek gesê dat hulle hul ondersteuning van die kitsjagbedryf hersien het.
Twee van die land se grootste toeroperateurs het ook die afgelope week toere waarin toeriste plase besoek waar hulle leeuwelpies kan streel van hul toerprogramme verwyder nadat hulle die dokumentêr gesien het, sê dr. Andrew Venter, voorsitter van die Wildlands Trust, wat betrokke was by die verfilming van Blood Lions.
Almal stem egter nie saam oor die dokumentêr nie.
Willi Jacobs, eienaar van Ukutula Lodge buite Brits in Noordwes, sê sy onderneming word in die rolprent uitgebeeld as ’n instansie wat betrokke is by geblikte leeus, terwyl dit glad nie die geval is nie.
Volgens hom teel hy leeus uitsluitlik vir navorsingsdoeleindes vir verskeie instellings en universiteite.
“Ongelooflike baanbrekerswerk wat tot die beskerming van alle wilde diere in gevangenis gelei het, is al hier gedoen,” sê Jacobs.
Hy sê al die inligting is op sy webwerf www.ukutula.com beskikbaar, maar die vervaardigers het dit geïgnoreer.