Skip to content

Jagbedryf sidder na film oor leeus

Die Suid-Afrikaanse jagbedryf is opnuut deur die internasionale publiek veroordeel nadat ’n dokumentêre film die lelike kant daarvan blootgelê het.

Volgens veteraanjagters staar die bedryf nou erge gevolge in die gesig indien die kwessies rondom leeu-kitsjagbedryf nie spoedig aandag kry nie. In die film, Blood Lions, word die leeu-kitsjagbedryf sterk gekritiseer. Bloedstollende beeldmateriaal van onder meer ’n leeu wat na ’n goeie blad-skoot ’n verdere vyf skote in ’n warboel toegedien word en jong leeus wat te swak of siek is om te loop, word in die film gewys.

Daar is sterk ondertoon in die film wat die jagbedryf in sy geheel veroordeel op gronde van etiese kwessies wat die produksiespan van die film as ononderhandelbaar uitbeeld. Een van die professionele jagters en ’n stigterslid van die Professionele Jagters Vereniging van Suid-Afrika (Phasa), wat ook in die film ’n verskyning maak, mnr. Garry Kelly, is bekommerd dat die aansien wat die leeu-kitsjagbedryf in die publieke opinie opbou, die jag- en ganse toerismebedryf in die land tot niet sal maak.

“Jag en die tradisie wat dit ’n gesogte sport maak is geskoei op die vernuf en geduld van die jagter en die afwagting wat saam met die bekruiping van die dier gaan. Nie een van hierdie aspekte is teenwoordig in ’n kitsjag-situasie nie,” verduidelik Kelly, tans ’n lid van Sampeo (South African Most Proven and Experienced Outfitters) met meer as 40 jaar se ervaring as ’n jag-operateur. Sampea is in 2010 in die lewe geroep toe sewe van Phasa se lede besef het dat ’n sterker stem vir integriteit in die jagbedryf nodig is.

Mnr. Hermann Meyeridricks, voorsitter van Phasa, het op die vereniging se webblad ’n persverklaring vrygestel waarin hy bevestig dat die organisasie se ondersteuning van dieleeu-kitsjagbedryf hersien moet word. “Ons het in 2013 ons standpunt, wat gekant was teen leeu-kitsjag en die teel van leeus in aanhouding, verander juis omdat ons onsself gesien het as ’n middelman wat die leeu-jag en -teel bedryf kan help regruk. Dit is egter duidelik dat ons standpunt teenoor hierdie bedryf nie langer verdigbaar is nie. Ons doen ’n beroep op alle lede van PHASA om hierdie kwessie goed te oorweeg sodat ons by die volgende algemene jaarvergadering ’n beleid kan opstel wat verdigbaar is in die hof van openbare opinie,” lui die persverklaring.

Besoek www.sampeo.co.za vir meer inligting, stuur ’n e-pos mnr. Garry Kelly by gks@gksafaris.co.za of skakel Phasa by 012 667 2048. Klik hier om die Blood Lions-webwerf te besoek.