Daar heers groot onmin onder beroepsjagters en ander bewaringskundiges oor wie nou eintlik verantwoordelik is vir die krisis wat tans in die jagbedryf heers.
Sommige beroepsjagters erken openlik dat die bedryf self ’n deel van die skuld moet dra en sê dat nie genoeg gedoen word om onetiese en onaanvaarbare jagpraktyke uit te roei nie.
Die Suider-Afrikaanse jagbedryf beleef een van sy grootste krisisse tot nog toe ná die internasionale storm oor die skiet van Cecil – ’n swartmaanhaarleeu wat na bewering uit die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe gelok is voordat hy deur ’n Amerikaanse tandarts met ’n kruisboog geskiet is.
Asof dit nie genoeg is nie, het die plaaslike jagbedryf nog ’n paar klappe gekry met die uitreiking van die dokumentêre fliek Blood Lions, wat die omvang van wanpraktyke in die geblikteleeujagbedryf in Suid-Afrika blootlê.
Die Australiese regering het in Maart ’n verbod op die in- en uitvoer van leeujagtrofeë geplaas en drie Amerikaanse lugdienste, American Airlines, Delta Airlines en United Airlines, asook Air Canada het ’n verbod op die vervoer van Groot Vyf-jagtrofeë geplaas.
Stewart Dorrington van Sampeo (South Africa’s Most Proven and Experienced Outfitters) glo die erge wanpraktyke in die leeuteel- en gebliktejag-bedryf word nou as skietgoed gebruik om die hele jag- en toerismebedryf te beswadder.
Dorrington sonder die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) uit vir kritiek omdat hulle nie reeds lankal strenger opgetree het teen die gebliktejagbedryf nie en ’n duideliker en harder boodskap hieroor uitstuur nie.
“Die probleem is dat dit nie meer ’n groepie raserige diereregteaktiviste is wat ons veroordeel nie. Die hele wêreld het ons jagbedryf nou onder die vergrootglas geplaas ná die uitbarsting oor die onwettige jag van die Zimbabwiese leeu Cecil en die dokumentêre rolprent Blood Lions,” sê hy.
“Ons grootste vrees is dat die openbare mening teen ons draai en ander lande en lugdienste soortgelyke stappe gaan doen om wildtrofeë te verbied. Wanneer dit gebeur, is die plaaslike bedryf daarmee heen,” sê hy.
Adri Kitshoff, uitvoerende hoof van Phasa, sê sy stem nie saam met Dorrington nie. “Ons veroordeel al jare lank onwettige jagpraktyke en ons waarsku reeds ’n tyd lank dat die jag van leeus in klein kampe sleg is vir ons reputasie,” sê sy.
Dr. Peter Oberem, president van Wildlife Ranching South Africa (WRSA), glo die regering moet die grootste aanspreeklikheid aanvaar vir die gemors.
“Elke provinsie het tans sy eie reëls en regulasies oor leeuteel en permitte wat tot uiterse verwarring lei. Uiteindelik word dié verwarring deur skelms in die bedryf uitgebuit,” sê hy.
Volgens hom is die oplossing om eenvormige wetgewing in te stel om beter standaarde en toestande in die bedryf te verseker.