Hierdie week op Flits het uitvoerende vervaardiger Andrew Venter en vervaardiger Pippa Hankinson kom gesels oor die dokumentêre rolprent Blood Lions.
Dié opspraakwekkende rolprent is onlangs by die Durbanse Internasionale Rolprentfees gewys, en bied ’n ontstellende blik op leeus, wat in aanhouding grootgemaak word om uiteindelik gejag te word.
Hilkinson het gesê dat hulle ten doel het om ’n globale bewustheid te skep van wat werklik met dié diere gebeur – in fasiliteite wat voorgee om die spesie te preserveer.
“Ons will hê dat die kykers ’n bewuste keuse moet maak van die verantwoordelikheid wat hul teenoor diere het, en hoe ons as ’n gemeenskap diere moet hanteer.”
Venter het gesê hulle wil hê kykers moet wegstap met ’n absolute verontwaardiging teenoor hierdie fasiliteite. “Dit is barbaars, dit is wreed en dit is bedrieglik.”
“Hoe kan ons as Suid-Afrikaners dit doen?”, het hy verder gesê. Sy hoop is dat Suid-Afrikaners hierdie boodskap sal versprei, en as aktiviste sal optree.
Om meer uit te vind oor die projek, besoek gerus die Blood Lions.