Die hofgeveg om die naam van die Zanchieta Wild Cat Farm buite Bloemfontein in ere te herstel nadat hy deur die dokumentere rolprent Blood Lions met die teel van geblikte leeus verbind word, is nog lank nie verby nie.

Die private reservaat waarop sowat 50 verskillende soorte wild in Waterbron gerehabiliteer en bewaar word, het gister in die hooggeregshof in Polokwane verlof gekry om teen ‘n vorige uitspraak van regter Eunice Mokgohloa te appelleer.

Sy het, terwyl sy nog in die hooggeregshof in Pietermaritzburg was, ‘n aansoek van Zanchieta om die verdere verspreiding van die rolprent te verbied en ook dat beeldmateriaal van drie van Zanchieta se leeus uit die rolprent en sy lokprent gehaal moet word, van die hand gewys.

Zanchieta gaan nou na ‘n volbank in die hooggeregshof in Pietermaritzburg daarteen appelleer.

Intussen berei Willie Botha van Willie J. Bothaprokureurs in Bloemfontein dagvaardings vir skadevergoeding van hon derdduisende rande voor teen Regulus Vision, die vervaardigingsmaatskappy in Durban, en die agt trustees van Wildlands Conservation Trust, die uitvoerende vervaardiger van die rolprent, weens die verliese wat Zanchieta ly.

Luidens Zanchieta se hofstukke herken mense die leeus William Wallace, Kalahari en Okavango in die rolprent en advertensiemateriaal, hoewel nie Zanchieta of die leeus se name in Blood Lions genoem word nie.

Die indruk word daarin gewek die drie leeus is “geblikte leeus”.

Sedert die uitreiking van die rolprent en sy lokprente weier agente om buitelandse vrywilligers wat betaal om met die wilde diere te werk na Zanchieta te verwys.

Zanchieta maak vir sy voortbestaan op die inkomste van sulke vrywilligers staat.

Uit ‘n hofverklaring van Lizette van Schalkwyk, eienaar van Zanchieta, blyk dit Pippa Hankinson, vervaardiger van die rolprent, en Ian Michler, die verteller in die rolprent, het ‘n werknemer van Zanchieta, Jeanna Gous, mislei toe hulle die plaas middel 2014 besoek het.

Hulle het gevra vir ‘n onderhoud met Gous en ‘n begeleide toer op die plaas vir navorsingsdoeleindes.

Zanchieta se die vertellings en “waarnemings” van Michler in die rolprent is nie waar nie en word uit verband geruk.

Dit is volgens Van Schalkwyk nie ‘n akkurate weergawe van wat Gous aan hom in die onderhoud vertel het nie.

Gous het dit duidelik gestel dat Zanchieta op geen manier by geblikte leeus betrokke is nie en ook nie sulke praktyke goedkeur nie.

Adv. Cobus Buys tree in opdrag van Botha vir Zanchieta op.