Toerisme sal ook soveel werk skep

Bewaringsorganisasies wat die afgelope twee dae ‘n debat oor die teel van leeus in gevangenskap in die parlement bygewoon het, was dit gister eens dat die onetiese bedryf so gou moontlik stopgesit moet word.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, en van haar amptenare het onder geweldige kritiek deurgeloop omdat hulle die “geblikteleeubedryf beskerm, verdedig en ondersteun”.

Die Suid Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (SANBI) is in die besprekings gekritiseer oor sy betrokkenheid by die jaarlikse bepaling van ‘n kwota leeu skelette wat na die Ooste uitgevoer mag word.

Omgewingsorganisasies, onder wie Ban Animal Trading, die EMS-stigting, die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT), Blood Lions, Green Girls in Africa, Humane Society Africa, Wildtruth, Four Paws en die Born Free-stigting, bestempel die bedryf as oneties en wreed.

Die organisasies is ook op die oorlogspad weens die newebedryf wat verlede jaar ontstaan het toe die departement aangekondig het dat Suid Afrika 800 leeu skelette na die Ooste mag uitvoer. Die kwota is vanjaar tot 1 500 leeuskelette verhoog.

Molewa hou vol dié kwotas is gegrond op “wetenskaplike navorsing”, maar dr. John Donaldson, hoofdirekteur van SANBI, erken die kwotas is bepaal op grond van ‘n “tussentydse verslag” en dat volledige inligting ontbreek.

Ross Harvey van die Suid Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede (SAIIA) wat die verslag, “Picking a Bone with Captive Predator Breeding in South Africa” opgestel het, het getwiet: “Hierdie bedryf is afstootlik. Daar is ‘n verskil tussen gebruik en uitbuit. Ons moet dit noem wat dit is.”

Hy sê in sy verslag navorsers het bevind die geblikte leeu bedryf ondermyn die voortbestaan van wilde leeus deur verskeie onder liggende bedrywe.

Suid-Afrika kan weens hierdie bedryf R54 miljard aan toerisme-inkomste verloor, sê hy. In ‘n verdere twiet sê Harvey dit is interessant dat die geblikteleeubedryf 1 300 poste skep, maar dat dieselfde hoeveelheid werk geskep kan word deur ekotoerisme sonder dat Suid-Afrika se internasionale beeld skade berokken word.

Hy wys daarop dat van die sprekers die leeubedryf beskryf het as ” ‘n monster wat etiese jag doodmaak”.

Die SAIIA het getwiet dié bedryf, wat op uitbuiting geskoei is, moet stopgesit word.

Harvey sê die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging (SAPA) is skaamteloos en probeer geblikteleeujag regverdig. “Hoeveel wegkomkans het daardie dier (wanneer hy geskiet word),” vra Harvey.

SAPA verteenwoordig die eienaars van sowat 250 leeuplase. Conservation Action Trust (CAT), wat ook ‘n verteenwoordiger by die debat gehad het, het gister gesê Phillemon Mapulane, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor omgewingsake, meen Suid-Afrika laat ‘n praktyk toe waarop die res van die wêreld sy rug gedraai het.

“Ons as land moet ‘n oplossing vind om dié situasie te verbeter,” sê hy volgens CAT.

Yolan Friedman van die EWT het die departement van omgewingsake gekap oor die manier waarop Suid-Afrika “volhoubare benutting” toepas.

Luidens ‘n twiet van die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) sê Friedman die departement se optrede is glad nie meer in ooreenstemming met die Grondwet nie. Sy het die departement herinner aan sy bewaringsmandaat ingevolge die Grondwet en die Wet op Biodiversiteit.

Molewa het gister ook onder hewige kritiek deurgeloop weens ‘n volblad “spesiale verslag” in Engelstalige koerante waarin sy geblikteleeujag en die handel in leeubeendere probeer regverdig en verdedig.

Sy sê daarin die departement is daarvan bewus dat verskeie groepe haar departement probeer oor reed om die bedryf stop te sit, maar is bekommerd oor die 8 000 leeus wat dan skielik waardeloos sal wees. Boonop sal 297 geriewe moet sluit en hul werkers moet afdank.

Die komitee het by die afsluiting van die sitting gesê ‘n verslag oor hul bevindings behoort binne twee weke beskikbaar te wees.

  • Die departement van landbou, bosbou en visserye, wat vir die welsyn van die leeus in gevangenskap verantwoordelik is, sê die diere wat in onnatuurlike omstandighede in hokke aangehou word, is nie veilig nie omdat hulle doodgemaak word deur trofeejagters en vir hul beendere.
  • 61% van die leeu skelette wat verlede jaar uitgevoer is, het uit die Vrystaat gekom.
  • Die meeste leeutrofee (van geblikte leeus) word na die VSA uit gevoer, daarna na Europa, Asië en Australië.
  • Die departement van omgewingsake gee te kenne hy is nie bewus van sogenaamde “leeuslagpale” soos die buite Bloemfontein wat onlangs opspraak gewek het nie.